Ai, ek en die tegnologie het so "love-hate" verhouding. Ek sal defnitief nie deurgaan vir 'n kenner nie en is ook nie 'n ywerige leerder nie. Die basiese is vir my genoeg. Met 'n laptop en selfoon wat gelyk begin lol het, is net weer besef hoe noodsaaklike ergernis dit geword het. Vir 'n hele ruk was ek dus van "die lug af"; byna van mens en die wêreld afgesny.
Toe ek my selfoon terugkry, moes ek ontdek dat die foto's wat daarop was, weg is. Net 'n swart skerm het na my terug gestaar. Vir 'n sekonde of wat het 'n groot benoudheid my hart vasgedruk... die laaste foto's van my broer was daarop!! Ek het letterlik gebid dat ek dit weer op 'n manier moes kon opdiep. Gelukkig is daar altyd iemand slimmer as jyself en kon die kosbare herinneringe weer opgespoor word.
Een van die foto's wat daarop was is die voordeur en veiligheidshek waar die boosdoeners die nag ingekom het. Die hek is later deur die polisie op die grasperk gevind: uit die muur geruk. Dit is voor die begrafnis weer vasgesit. Die gat was nog in die deur. Om een-of-ander rede het ek dit afgeneem. Later sou ek dikwels daarna kyk, veral as die gebeure so onwerklik voel. Met tye dink ek nog steeds om gou my broer te bel en dan die besef... dit kan nie meer nie. Sulke tye wil 'n mens amper vir die uitvinders van 'n kamera en al die nuutste tegnologie 'n eerbewys gee. Foto's raak kosbare herinneringe wanneer 'n geliefde nie meer daar is nie. Dikwels is daar nog 'n stem op 'n selfoon... Dinge wat die seer en verlang bietjie ligter maak.