Dinsdag 24 Desember 2013

Kersfees...alles net genade

Een slapie voor Kersfees.

Hoe dikwels het dit nie opgewondenheid meegebring nie? Die laaste jaar of twee is opgewondheid dalk nie meer die regte woord om die aanloop tot Kersfees te beskryf nie.
Dit is 'n veel dieper gevoel. Afwagting dalk? Of dalk eerder dankbaarheid?

Snaaks hoe die onthou van familie Kersfeeste kom nesmaak in jou kop. Kersfees op die kleinhoewe was nooit uitspattig nie, maar die saamkuier het dit kosbaar gemaak. Een van die lekkerste onthou oor my broer is   Oukersaande se kersliedere sing in die gemeente. Geen nagtegaal (die wat mooi kon sing)of kraai (die minder begaafdes) het dit gemis nie. My broer was ons taxi  kerk toe; daar waar die trok gewag het. Knap na middernag is huiswaarts gekeer. Nooit was my ouers bekommerd oor ons jongeres se veiligheid nie - Ouboet was saam en hy was verantwoordelik. 

Saam met al die onthou kom groot dankbaarheid. Dankbaarheid vir die gesin waarin ek gevorm is; die ouers wat aan my geskenk is en die spesiale broer wat aan ons geleen is. Sy verhouding met elkeen van ons ander kinders was spesiaal.

Die grootste dankbaarheid gaan egter oor die Kind wat gebore is... en later ook sou sterf. Die Kind wat kom wys het dat alles net genade is. Ek is bly dat ek hierdie Kind ken.

Ek het iewers gelees dat God gebroke harte kan heelmaak as ons net vir Hom al die stukke gee. Ek glo dit met my hele hart. Het Hy nie dan ook 'n Seun aan die dood afgestaan nie?