Hier is soveel seer in ons land. Dit besef ek telkens wanneer ons die trauma ondersteuningskamp reël. Behalwe vir moord, selfdood, ongelukke is daar ook die seer van verkragting, egskeiding, huishoudelike geweld en verhoudings wat verbrokkel. Laasgenoemde is nie net tussen geliefdes nie, maar ook tussen vriende en familielede. Oproepe vertel die verhaal. Mense smag na hulp...totdat hulp 'n beskikbaar is. Dan neem vrees weer van hul besit.
Die hartseer is dat persone , wat erken dat hulle hulp nodig het, dikwels wegdraai van 'n helpende hand. Hulle probeer die seer toeplak. Volstruistegniek lyk dikwels na 'n oplossing. Vir 'n rukkie kan dit dalk, maar iewers tref die werklikheid 'n mens weer.
Wanneer 'n bottel breek, tel ons die stukke op. Wanneer ons hart "breek", wil ons oor die stukke klim. Dikwels dink ons die seer sal verdwyn as ons die "stukke" ignoreer, of ons dink ons kan daaroor spring. Ongelukkig is nie een van die metodes doeltreffend nie. Die enigste oplossing is om dit op te tel; om dit te hanteer. Ons moet eers deur ons pyn stap om by genesing uit te kom. Natuurlik is dit nie 'n maklike of aangename proses nie. Dit neem 'n dapper persoon om die weg te volg. Niemand sal dit vir die pret(?) doen nie. Tog is dit 'n proses wat noodsaaklik is, wat jou lewensfiks hou. Dit help jou om weer die lewe voluit aan te durf.
Wat maak 'n mens dan met die stukke? Bou 'n mosaiek! Sit die stukke bymekaar! Daar gaan krakies wees, ja. Van die stukke het skerp punte; dis ook waar. Maar saam kan dit 'n lieflike beeld/patroon vorm. Waardeer dan jou mosaiek : sien die geheel , nie die stukke. Dit is soos God ons sien.