Ons staffie van dertien jaar moes verlede week uitgesit word. Enige troeteldierliefhebber sal weet dat dit nooit 'n maklike besluit is nie. Vir weke is met die idee gestoei, maar later was dit onafwendbaar. Sy het 'n beroerte gehad en was onder andere blind.
Ruby was n besonderse hond. Skaars agt weke oud, het sy die soldertrap bestyg as sy ons stemme hoor. Dan kon sy by die venster inkyk waar ons met 'n telefoonoproep besig was. Slange, skerpioene en muishonde het geen vrees by haar ingeboesem nie en sy het gesorg dat die erf skoon bly van enige ongediertes. Sy kon sag beweeg. Een aand het sy by die hek uitgesluip toe my man dit vir 'n gas oopmaak. Dit was donker en ons het dit nie agter gekom nie. Drie uur die volgende oggend het sy aan die voordeur kom krap om ingelaat te word - moeg gekuier in die buurt.
Behalwe dat ons hartseer was om haar te verloor, het ek ook onthou hoe ek my bekommernis aan my broer oorgedra het rondom haar siekte vier jaar gelede. Die Karoo het daardie tyd wit van die sneeu gelĂȘ. Paaie was vir twee daer gesluit. In die tyd het Ruby bosluiskoors en longontsteking opgedoen. Toe ek die dinge vir my broer vertel het, sou ek nie kon dink dat laasgenoemde van ons weggeruk sou word nie. Minder as twee maande later is my ouboet vermoor. Ruby het herstel.
Wanneer 'n mens iets of iemand verloor, is die gemis daar. In sommige gevalle meer kortstondig; in ander gevalle 'n leeftyd lank.