Saterdag 07 Mei 2016

'n Ma leef liefde...

More is Moedersdag.

My ma is reeds 29 jaar nie meer deel van ons aardse lewe nie, maar in my hart en gedagtes leef sy voort. Daar gaan nie 'n dag verby sonder dat ek op een-of-ander manier aan my ma herinner word nie. Dalk 'n sê-ding; dalk ietsie wat my oog vang; dalk 'n gereg wat ek maak...

Op skool wou baie van my maats  met my broodjies ruil .'n Tuisgemaakte vetkoek of jafel is baie smaakliker as snoepie lekkernye. My ma s'n was ekstra lekker, want dit is met liefde gemaak. Al was daar die dag net 'n appelkooskonfytbroodjie in my blik, kon ek steeds die liefde proe.

Alhoewel my ma baie gesondheidsprobleme gehad het, was sy nooit te siek om haarself vir haar kinders te gee nie.Ons kleinhoewe was vakansietye en naweke die niggies en nefies se kuierplek. My ma se hart was groot. Sy was lief vir  mense.
 
My ouers se gebede het ons gedra. As hulle nie self op 'n plek kon wees nie, was hulle  gebede altyd vooruit. Daar is niks so opreg soos 'n ouer se gebed nie- die liewe Heer weet dit kom diep uit die hart. 
 
Iets wat ek baie van my (oorlede) ouers waardeer is dat hulle ons toegelaat het om ons eie mens te wees: ons eie drome te droom, eie lewe te lei en eie foute te maak. Hul was altyd daar vir raad en leiding, maar sou ons nooit in 'n rigting prober druk nie. Natuurlik was hul ook vreeslik trots op ons - nie een van ons kinders het in 'n ander se skadu geleef nie. Ons is as unieke wesens groot gemaak.
 
Partydae wens ek steeds ek kon my ma bietjie bederf. Sy het so baie vir ons kinders opgeoffer. Ek het haar nooit hoor kla nie. Vandag besef ek hoe moeilik dit dikwels vir haar moes wees. Ek het skaars begin om my eie geld te verdien toe sy oorlede is. Ek is dus nie die kans gegun om haar met materiële dingetjies te bederf nie,maar sy het geweet hoe ek haar as ouer waardeer het. Dit het ek altyd vir haar prober wys. Met my twintigste verjaarsdag het ek aan my ouers 'n dankie-kaartjie gestuur. "Dankie vir twintig jaar se liefde en sorg," het ek binne-in geskryf. Met my pa se afsterwe, jare na die van my ma, is die kaartjie in sy een laai gekry.
 
Ek besef net elke dag hoe bevoorreg ek was om in 'n stabiele, liefdevolle huis groot te word. As ek deur die koerante blaai en al die liefdeloosheid, en selfs wreedheid ,sien wat in huishoudings plaasvind, laat dit my hart inkrimp. Dan sê ek weer duisend keer dankie vir die ouers wat die Liewe Vader aan my gegee het.
 
 
            "n Ma hou haar kind se hand vir 'n kort rukkie vas, maar sy hart vir altyd."
                                                                          Anoniem