Dikwels dra jy kennis van ander se pyn, maar kan dit nie voel nie, want dit is nie jou pyn nie. Al stem omstandighede dikwels ooreen, bly elkeen se pyn sy eie en niemand kan dit vir ons dra nie. So het oom Dirk ook vir jare met sy pyn die lewenspad gestap...
Dirk en Ellie Human se eersgeborene het op 23 Januarie 1996 sy eie lewe geneem. Dit was slegs 'n paar maande nadat hul jongste seun in 'n ernstige motorongeluk betrokke was. Terwyl die tragedie afgespeel het, was hulle juis in Kaapstad om die jongste seun te ondersteun. Laasgenoemde moes na die ongeluk 'n operasie ondergaan.
"Een van my eerste gedagtes was dat die Here te ver gegaan het," vertel Dirk. "Ons het dan voor Japie se geboorte so gebid vir 'n welgeskape seun en nou is hy onder sulke omstandighede weggeneem. Ons was verslae, verbitterd en alleen."
"Die dag toe ons hom in die kerkhof gaan weglê het, wou ek en my vrou nie omdraai. Ons was stukkend. Ons wou Japie nie alleen laat nie," vertel hy. "Ek kan nie daardie gevoel beskryf nie: magteloos, eensaam, verlate? Dit het regtig gevoel of die Here 'n groot fout gemaak het." Dirk erken dat hy met die Here baklei het en dit met tye nog steeds doen. "Party dae voel dit steeds asof dit nie die werklikheid is nie," sê hy. Tog word ons telkens herinner dat die Here ons nie verlaat nie. Hy hou ons elke dag styf vas."
Japie sal altyd in hulle harte voortleef. Wanneer die Humans se voordeur oopgestoot word, begroet 'n laggende Japie jou. 'n Vergroting van sy foto hang in die gang.
Dirk se trooskombers is egter sy daaglikse besoeke aan die kerkhof. As koster maak hy elke oggend om sesuur seker dat die kerkklok op die minuut slaan. Daarna besoek hy die kerkhof en Japie se graf. Wintertye ontmoedig selfs die donker en die ysige koue van die Karoo hom nie. "Hier gesels ek met my kind en ook met die Here," sê hy. "Een oggend was dit sof my Verlosser langs my gestaan het. Dit was asof hy vir my wou sê dat wat Hy doen ek dalk nie nou verstaan nie, maar wel eendag sal begryp."
Dirk is ook self verantwoordelik vir die netheid rondom die graf. Hy verkies dit so. Dit is die laaste wat hy vir sy kind kan doen.
NASKRIF: Die kerkklok waarop oom Dirk so gesteld was, het nou ook 'n laaste keer vir hom gelui. Enkele weke na ons gesprek is oom Dirk op 9 Februarie 2016 oorlede. Vir ewig is hy nou met Japie verenig.
Ek glo tannie Ellie en sy ander twee kinders gun hom dit...tot hul almal eendag weer ontmoet.