Dit is altyd vir my interessant hoe 'n klein dingetjie dikwels 'n emosie in mens kan losmaak... 'n reuk, soms 'n kleur of 'n liedjie. In hierdie geval was dit 'n papaja; ja, 'n doodgewone "paw-paw."
Die dag met my broer se begrafnis het die naby familie voor die diens eers op die kleinhoewe byeen gekom. Daar was nie 'n spesifieke rede voor nie. Dalk wou ons ons vergewis dat dit werklik waar is; dalk het ons gedink om antwoorde/vrede te vind? Ek weet nie. Dit is egter so dat ons graag daar wou wees.
Die tuin het reeds haar lenterok aangetrek; dit was immers September. Hoog in die papajaboom het geswelde papajas met effense geel skynsels gehang. Om een-of -ander rede het dit my oog gevang.
Verder was alles oorweldigend groen.
Ongeveer tien dae later en terug by die huis, het ek die plaaslike supermark besoek. Met die inkom het ek die man opgemerk wat besig was om papaja's op die rak te pak. Net daar het my emosies my oorweldig. Ek moes uit die winkel stap om te keer dat ek nie naam weggooi nie.
Op daardie oomblik het ek na alles en almal verlang wat nie meer is nie: my broer, my ouers, ons familiegrond.
Een besef wat onbetwisbaar is, is dat niks ooit weer dieselfde is nie. Dis hartseer, maar nie noodwendig sleg nie. Dikwels bring dit 'n groeiproses mee en ek is seker as ek/ons eendag terugkyk, gaan alles oorweldigend groen wees.