Niemand van ons wil hê dat ons afgestorwe geliefdes slegs as 'n statistiek onthou word nie. Ons weet wat hulle vir ons, en dikwels ook vir ander, beteken het. Daarom gebeur dit dikwels dat die treurendes iets doen of oprig, ter herinnering aan die afgestorwene se lewe. Dit is normaal.
Baie put krag uit hierdie daad van herinnering; wat natuurlik uit liefde spruit. Tog is daar dikwels waarskuwings dat diegene wat agter gelaat is nie in die verlede water moet trap nie; dus nie in die verlede moet vassteek nie. 'n Berader is hieroor genader.
Dr. Yvonne Retief is 'n gerespekteerde berader op nasionale en internasionale gebied. Sy wys daarop dat sekere gedrag vir 'n sekere tydprek normaal en aanvaarbaar is, bv die dra van swart klere en 'n rouband in die verlede. "Enige ritueel wat dit vir 'n mens, as individu, makliker maak, is goed," sê sy. Tog wys sy daarop dat dit ongesond kan wees om bv elke week blomme in 'n persoon se kamer te sit terwyl die kamer onveranderd bly. "Om iets soos 'n beurs of skild ter nagedagtenis van iemand te skenk, hou die nagedagtenis in ere sonder dat die persoon wat rou oor 'n lang tydperk steeds 'n klomp energie in die instandhouding van die nagedagtenis belê," meen sy. Syself hou van die idee om 'n boom te plant ter nagedagtenis van 'n oorledene. Sy stel dit duidelik dat mense verskillend rou en dat rituele van onskatbare waarde kan wees, maar dat 'n mens versigtig moet wees om nie daar vas te hak nie."
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking