Dit is vandag vier jaar vandat my ouboet deur mense van ons weggeneem is. Vier jaar se gemis, maar ook vier jaar van genade. Tree-vir-tree word mens vasgehou. Hy laat jou nooit in die steek nie, al besef jy dit dikwels eers later.
Iets wat ek altyd geweet het, maar in die jaar baie ondervind het, is dat elke hart sy pyn het. Sommige hartswonde is dieper as ander en neem dalk langer om te genees, maar niemand is verhewe bo pyn nie.Ongelukkig is dit nog vir baie 'n tammeletjie om daaroor te praat. Om oop te maak. Om skoon te maak. 'n Wond wat toegehou word, sweer later. Genadiglik is ek 'n persoon wat maklik praat. Wanneer daar nie 'n gewillige oor naby is nie, is Hy nog altyd daar.
My ouboet se geboortedatum en sterfdatum is net meer as 'n maand uitmekaar. In die dae tussen-in is daar amper 'n "afwagting." Daarna is dit asof die gemoed weer meer rus kry.
Waarvan het ek in die vier jaar meer bewus geraak?
* dat 'n mens baie krag van Bo in hartseertye ontvang;
* dat elke persoon wat treur 'n doelbewuste besluit moet neem om aan te beweeg. Dit beteken NIE dat jy jou geliefde vergeet of verraai nie;
* dat krag dikwels in herinneringe lê - veral kort na 'n geliefde se afsterwe;
* dat jy steeds voluit kan lewe na 'n geliefde se dood. Dit gaan dalk anders geskied as wat jy aanvanklik beplan het, maar die lewe kan steeds lekker wees;
* dat dit elke dag 'n voorreg is om 'n nuwe dag binne te gaan. Skielik kan ek meer assosieer met die liedjie: "If tomorrow never comes";
* dat daar nog baie is om voor dankbaar te wees.
Ek sal my broer altyd mis. My elke- dag-se-onthou is vol gedagtes aan hom. Hy was net te groot deel van my lewe... Tog is ek 100% oortuig dat hy nie sou wou hê dat my lewe op hold geplaas moet word nie. Ek bly dankbaar vir die voorreg om hom my ouboet te kan noem.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking