Dinsdag 24 Desember 2013

Kersfees...alles net genade

Een slapie voor Kersfees.

Hoe dikwels het dit nie opgewondenheid meegebring nie? Die laaste jaar of twee is opgewondheid dalk nie meer die regte woord om die aanloop tot Kersfees te beskryf nie.
Dit is 'n veel dieper gevoel. Afwagting dalk? Of dalk eerder dankbaarheid?

Snaaks hoe die onthou van familie Kersfeeste kom nesmaak in jou kop. Kersfees op die kleinhoewe was nooit uitspattig nie, maar die saamkuier het dit kosbaar gemaak. Een van die lekkerste onthou oor my broer is   Oukersaande se kersliedere sing in die gemeente. Geen nagtegaal (die wat mooi kon sing)of kraai (die minder begaafdes) het dit gemis nie. My broer was ons taxi  kerk toe; daar waar die trok gewag het. Knap na middernag is huiswaarts gekeer. Nooit was my ouers bekommerd oor ons jongeres se veiligheid nie - Ouboet was saam en hy was verantwoordelik. 

Saam met al die onthou kom groot dankbaarheid. Dankbaarheid vir die gesin waarin ek gevorm is; die ouers wat aan my geskenk is en die spesiale broer wat aan ons geleen is. Sy verhouding met elkeen van ons ander kinders was spesiaal.

Die grootste dankbaarheid gaan egter oor die Kind wat gebore is... en later ook sou sterf. Die Kind wat kom wys het dat alles net genade is. Ek is bly dat ek hierdie Kind ken.

Ek het iewers gelees dat God gebroke harte kan heelmaak as ons net vir Hom al die stukke gee. Ek glo dit met my hele hart. Het Hy nie dan ook 'n Seun aan die dood afgestaan nie?

Maandag 25 November 2013

Tegnologie

Ai, ek en die tegnologie het so "love-hate" verhouding. Ek sal defnitief nie deurgaan vir 'n kenner nie en is ook nie 'n ywerige leerder nie. Die basiese is vir my genoeg. Met 'n laptop en selfoon wat gelyk begin lol het, is net weer besef hoe noodsaaklike ergernis dit geword het. Vir 'n hele ruk was ek dus van "die lug af"; byna van mens en die wêreld afgesny.
 
 
Toe ek my selfoon terugkry, moes ek ontdek dat die foto's wat daarop was, weg is. Net 'n swart skerm het na my terug gestaar. Vir 'n sekonde of wat het 'n groot benoudheid my hart vasgedruk... die laaste foto's van my broer was daarop!! Ek het letterlik gebid dat ek dit weer op 'n manier moes kon opdiep. Gelukkig is daar altyd iemand slimmer as jyself en kon die kosbare herinneringe weer opgespoor word.
 
Een van die foto's wat daarop was is die voordeur en veiligheidshek waar die boosdoeners die nag ingekom het. Die hek is later deur die polisie op die grasperk gevind: uit die muur geruk. Dit is voor die begrafnis weer vasgesit. Die gat was nog in die deur. Om een-of-ander rede het ek dit afgeneem. Later sou ek dikwels daarna kyk, veral as die gebeure so onwerklik voel. Met tye dink ek nog steeds om gou my broer te bel en dan die besef... dit kan nie meer nie. Sulke tye wil 'n mens amper vir die uitvinders van 'n kamera en al die nuutste tegnologie 'n eerbewys gee. Foto's raak kosbare herinneringe wanneer 'n geliefde nie meer daar is nie. Dikwels is daar nog 'n stem op 'n selfoon... Dinge wat die seer en verlang bietjie ligter maak. 
 
 


Dinsdag 08 Oktober 2013

Lees...


My man spot altyd en sê dat hy met'n "leesolis" getroud is.

Dit was dus nie snaaks dat ek ook na my broer se dood baie gelees het nie; veral oor die dood/hemel. Dis asof mens troos soek in ander se woorde. Alhoewel dit nie jou eie hartseer uitvee nie, is dit tog vertroostend om te weet jy is nie die enigste een met die diep seer nie. Dit is ook wonderlik hoe mense wat jy nie eers ken nie, dikwels woorde het om jou pyn en gevoelens uit te druk.

Van die boeke wat ek gelees het, is:
* Die hemel is werklik - Todd Burpo saam met Lynn Vincent;
*5 minute voor en na die dood - Isak Burger;
* 'n Reënboog deur trane - Solly Ozrovech;
* My lewe in God se wil -  Stephan Joubert;
* In die stilte van verlies - Jerry Sittser.

"Selfs die hartseerste dinge kan,
as ons eers vrede daarmee gemaak het,
'n bron van wysheid en krag word
vir die reis wat nog voor ons lê."
(Frederick Buchner).

Dinsdag 24 September 2013

Klein dingetjies...

Dit is altyd vir my interessant hoe 'n klein dingetjie dikwels 'n emosie in mens kan losmaak... 'n reuk, soms 'n kleur of 'n liedjie. In hierdie geval was dit 'n papaja; ja, 'n doodgewone "paw-paw."

 
Die dag met my broer se begrafnis het die naby familie voor die diens eers op die kleinhoewe byeen gekom. Daar was nie 'n spesifieke rede voor nie. Dalk wou ons ons vergewis dat dit werklik waar is; dalk het ons gedink om antwoorde/vrede te vind? Ek weet nie. Dit is egter so dat ons graag daar wou wees.
 
Die tuin het reeds haar lenterok aangetrek; dit was immers September. Hoog in die papajaboom het geswelde papajas met  effense geel skynsels gehang. Om een-of -ander rede het dit my oog gevang.
Verder was alles oorweldigend groen.
 
Ongeveer tien dae later en terug by die huis, het ek die plaaslike supermark besoek. Met die inkom het ek die man opgemerk wat besig was om papaja's op die rak te pak. Net daar het my emosies my oorweldig. Ek moes uit die winkel stap om te keer dat ek nie naam weggooi nie. 
 
Op daardie oomblik het ek na alles en almal verlang wat nie meer is nie: my broer, my ouers, ons familiegrond. 
 
Een besef wat onbetwisbaar is, is dat niks ooit weer dieselfde is nie. Dis hartseer, maar nie noodwendig sleg nie. Dikwels bring dit 'n groeiproses mee en ek is seker as ek/ons eendag terugkyk, gaan alles oorweldigend groen wees.




Maandag 09 September 2013

Na die dood van 'n geliefde hoor mens dikwels dat daar nie in die verlede vasgehaak moet word nie. Dit is waar: 'n mens moenie in die verlede leef nie. Ek dink nie dit is wat ons geliefdes sou wou hê nie. Tog het ek gevind dat 'n mens soms die verlede nodig het om die hede te oorleef.
 
Direk na my broer se dood het die mooi van gister gehelp om my deur elke dag se seer te dra. Dit beteken nie ek het by gister vasgehaak nie, maar die mooi herinneringe het die seer tog bietjie ligter gemaak.
 
Aan die begin het dit vir my gevoel daar is niks om oor te lag nie. Soos die tyd aanstap is  daar so baie onthou's dat ek amper permanent met 'n glimlag rondgeloop het...en nog steeds rondloop. Hy was byvoorbeeld erg oor boeremusiek, maar het nooit leer dans nie; was ook nie angstig om te leer nie. Die musiek was vir hom genoeg.
 
Sy respek en liefde vir die lewe en sy medemens sal ek ook altyd met my saamdra. Hy het nie onverskillig gelewe nie. Om sy lewe te vier , het ek 'n skild aan die laerskool waar al ses ons kinders skool gegaan het, geskenk. My versoek was dat dit aan 'n leerder toegeken moet word wat respek vir sy/haar leerkragte en maats het...'n kind met goeie maniere.
 
Al is die verlange groot en die omstandighede hoe my broer gesterf het ongewens, sal ek altyd dankbaar wees dat hy my ouboet was. Dit sal ek vir niks in die wêreld verruil nie!
 
Die onderstaande het ek 'n advertensie pamfletjie raak gelees:
"Julle kan huil omdat ek weg is,
of julle kan glimlag omdat ek geleef het...
 
Julle kan jul oë sluit en bid dat ek terugkom,
of julle kan jul oë open en sien wat ek agter gelaat het...
 
Julle kan jul rug draai op more en in gister bly leef,
of jul kan more aanpak met gister se mooi as jul dryfkrag...
 
Julle kan bly vasklou aan die wete dat ek nie meer daar is nie,
of jul kan my herinnering in jul hart laat bly lewe..."
 
  


Saterdag 24 Augustus 2013

Hierdie is die eerste tree om die son weer agter die wolke te vind


 

 

  Ouboet
Ek wens ek kon jou help toe die boosheid jou omsingel het...
Ek wens ek kon jou laaste oomblikke sagter maak...
Ek kon nie..
Maar ek kan jou voorbeeld uitdra;
Ek kan jou lag onthou;
Ek kan jou wysheid in my geheue vasmaak;
Ek kan ons saamgesels opdiep as die verlange in my brand;
Ek  kan jou liefde in my hart wegbêre
en herinneringe in elke dag toevou.
Ek kan vorentoe kyk en bid om vrede te vind, 
want jy was nie net my broer nie, maar ook Sy kind.
         
Dit was die stukkie wat ek vir my oudste broer se begrafnisbrief geskryf het. Hy is op 5 September 2012 op sy kleinhoewe buite Brits vermoor.
 
Wanneer so iets met 'n geliefde gebeur, moet jy soms na die son gaan soek. Jy weet dit is daar, maar die prentjie is dof. In die tyd kort na sy dood, het ek iewers die woorde raak gelees:"Vind die son weer agter die wolke." Dit is vir my so beskrywend. Na 'n geliefde se dood / trauma, kan mens so maklik teen die donkerte vaskyk en die Lig daaragter mis.
 
Direk na sy dood het ek  reeds die  behoefte gehad om iets positief uit die nagmerrie te probeer kry. Seer is nie maklik om alleen te dra nie, maar soms ook moeilik om met ander te deel.Tog is dit in 'n sin makliker om   oop te maak wanneer die omstandighede min-of-meer dieselfde is. Daarom was die kamp vir families van moordslagoffers wat ons Augustus 2013 gehou het, vir my 'n eerste tree om ook  saam met ander die pad na genesing te stap.
 
My broer het so mooi lewe gehad en die gemis is groot. Daar buite is egter baie mense vir wie die son ook met tye wegkruip; of wat voel dat die son onder gegaan het. Die goeie nuus is: dis nie waar nie. Die son (Lig) is daar...ons moet net bietjie soek. 
         .