Saterdag 26 September 2015

Rugby

En hier is die Rugby Wêreldbekerkampioenskap weer aan die gang!

Ek kan nie help om te onthou dat my broer met die vorige kampioenskap nog saam met ons was nie. 'n Mens se onthou loop  mos sy eie pad...

Die meerderheid van ons gesin is groot sportentoesiaste, veral rugby. My pa kon so graag sê, wanneer dinge op die veld nie na wense verloop het nie,"Kan jy dit glo?". Dan sou my ma antwoord: "Maar jy sien dit dan." Vandag nog dink ek met genot terug hieraan.

Een van die dinge wat ek wel na elke wedstryd mis, is ek en my ouboet se gesels na 'n wedstryd. Ongeag watse wedstryd dit was; na elkeen het ons mekaar gebel en dan was dit tyd vir grooot gesels. Aanvanklik het die gesprek met rugby begin, maar later is sommer alle nuus gedeel. Na ons ouers se afsterwe was hy die anker in die familie. Hy was die skakel met die uitgebreide familie en so het almal op hoogte gebly oor familiesake.

Skooltyd het ons gereeld gaan rugby kyk op Loftus. Ja, natuurlik is ons gesin Blou Bulle! Van die lekkerste onthou is die rugby uitstappies. Al sit ek duisend kilomer weg, is daar nog steeds iets in die lug op 'n Saterdagmiddag (in rugbytyd) wat my na Loftus laat verlang. Dis so terloops waar ek geleer het om so vinnig te stap. Ek moes hard stap om by die manne te bly. Op universiteit het my vriendinne altyd gekla ek loop te vinnig!!

Wanneer iemand nie meer daar is nie, raak al sulke stukkies herinnering kosbaar. Jy bêre alles in die onthou-boksie om uit te haal wanneer die gemis kop uitsteek. En dit troos tog so bietjie...


"Enjoy the little things in life,
because one day you will look back
and realise they were the big things." 

Vrydag 18 September 2015

Die mooiste, mooiste maand

Die ouer mense het altyd gesê dat mens nie oor mooi en lekker kan stry nie. Dis waar. So verskil ek met die digter oor die "mooiste, mooiste maand." September was/ is nog altyd vir my 'n spesiale maand; iets soos vitamiene vir die siel. Ek was nog nooit 'n wintermens nie. Dit voel dus vir my of ek in September so saam met die natuur ontwaak en nuwe lewe kry.

Ironies genoeg is dit die maand waarin my ma begrawe is (1 Sept 1987) en ook die maand waarin my broer vermoor is (5 Sept 2012). Tog bekoor die maand my steeds. Ek waardeer die prag van die natuur nog meer, want wie van ons weet wanneer dit ons laaste lente is? Dit is daarom wat ek poog om elke dag voluit te leef; ook vir hulle wat nie meer kan nie. Natuurlik is dit nie altyd maklik nie; natuurlik is die verlangdae nog daar.

In die drie jaar na my broer se dood het die gevoel van magteloosheid plek gemaak vir 'n oneindige gevoel van dankbaarheid: dankbaarheid dat hy my ouboet was, dankbaarheid dat hy 65 jaar vir ons familie gespaar is; dankbaarheid vir die mooi lewe wat hy gehad het; dankbaarheid vir die voorbeeld wat hy aan ons ander gestel het...

Hiermee saam ook  dankbaarheid vir die ouers wat ons gehad het; hulle wat gehelp vorm het aan die wonderlike ouboet wat ons gehad het. Dan besef ek weer daar is soveel meer in die lewe as wat geld kan koop.

Dit is hierdie mooi herinneringe wat my (en ek glo baie ander wat geliefdes verloor het) troos tydens die verlangdae. En dan stuur ek weer 'n dankgebed na Bo...




Donderdag 10 September 2015

Terug op die lug!

Na baie tegnologiese pyne met die laptop en ander bedrywighede, is ek weer terug om te gesels.

Alhoewel daar heelwat tyd afgetik het na die moord op my broer, is daar elke dag "nuwe" gevalle wat mense se lewens deurmekaar krap; om dit sagkens te stel. Daar is so baie seer in ons land: moord, selfdood, ongelukke, verkragtings, egskeidings... Die seer word telkens duidelik wanneer ek die jaarlikse Trauma Ondersteuningskampe reël. Noodkrete vir hulp klink van orals op. Ongelukkig is nog baie mense huiwerig om daaroor te praat. Praat is nie maklik nie, maar noodsaaklik!!

Daar is so baie maniere waarop mense gehelp kan word: gebruik dit. Om met die seer rond te loop beïnvloed jou hele menswees; ook verhoudinge met ander gesins-en familielede, want nie almal treur op dieselfde manier nie. Eers wanneer jou eie seer gesond is, het jy krag en die wil om ander by te staan. 

Ek wil jou uitnooi om saam te gesels. Kom ons bemoedig en ondersteun mekaar... daar breek dalk net 'n sonstraal deur.

(Indien jy wil saam gesels/ kommentaar lewer, klik op geen kommentaar onderaan die blog en dan sal dit vir jou die opsie gee om saam te kuier.)