Die ouer mense het altyd gesĂȘ dat mens nie oor mooi en lekker kan stry nie. Dis waar. So verskil ek met die digter oor die "mooiste, mooiste maand." September was/ is nog altyd vir my 'n spesiale maand; iets soos vitamiene vir die siel. Ek was nog nooit 'n wintermens nie. Dit voel dus vir my of ek in September so saam met die natuur ontwaak en nuwe lewe kry.
Ironies genoeg is dit die maand waarin my ma begrawe is (1 Sept 1987) en ook die maand waarin my broer vermoor is (5 Sept 2012). Tog bekoor die maand my steeds. Ek waardeer die prag van die natuur nog meer, want wie van ons weet wanneer dit ons laaste lente is? Dit is daarom wat ek poog om elke dag voluit te leef; ook vir hulle wat nie meer kan nie. Natuurlik is dit nie altyd maklik nie; natuurlik is die verlangdae nog daar.
In die drie jaar na my broer se dood het die gevoel van magteloosheid plek gemaak vir 'n oneindige gevoel van dankbaarheid: dankbaarheid dat hy my ouboet was, dankbaarheid dat hy 65 jaar vir ons familie gespaar is; dankbaarheid vir die mooi lewe wat hy gehad het; dankbaarheid vir die voorbeeld wat hy aan ons ander gestel het...
Hiermee saam ook dankbaarheid vir die ouers wat ons gehad het; hulle wat gehelp vorm het aan die wonderlike ouboet wat ons gehad het. Dan besef ek weer daar is soveel meer in die lewe as wat geld kan koop.
Dit is hierdie mooi herinneringe wat my (en ek glo baie ander wat geliefdes verloor het) troos tydens die verlangdae. En dan stuur ek weer 'n dankgebed na Bo...
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking