Maandag 30 November 2015

Ai, daardie tong...

Ek is iemand wat van my nuus hou. Alhoewel my tegnologiese kennis nou nie iets is om mee te spog nie, werk dit nogal vir my om koerante op die internet te lees. Hier in die Karoo is die koerante nou nie altyd op skedule nie. Daarom loer ek graag op die internet om te sien wat in die land en wêreld aangaan.

Ongelukkig bestaan 'n groot deel van die dag se nuus gewoonlik uit moord, ongelukke, dikwels ook selfdood. Dis gebeure (soos baie ander) wat families en vriende ruk. Onderaan die berigte plaas mense (?) dikwels kommentaar en dis wat my soms na my asem laat snak. Nie oor dit so mooi of bemoedigend is nie, maar oor dit so kwetsend en onnadenkend is. Dikwels wil dit vir my voorkom asof die lesers wedywer oor wie die skerpste tong kan hê; wie die seerste kan kwes. Aannames word gemaak en beskuldigings rond geslinger... so asof dit 'n speurverhaal is en daar 'n prys op die spel is.

Sulke kommentaar laat my dikwels dink dat 'n groot deel van die publiek ook "moordenaars" is; mense wat ander se siel / emosies dooddruk met hul woorde. Die Woord waarsku nie verniet teen die tong nie. Die einste tong het al menige persoon oor die afgrond gestoot.En tog leer ons nie...

Gelukkig is daar ook mense wat sagte woorde spreek; woorde wat jou binneste salf. Daar is net Een wat kan genees, maar elke woordjie van begrip en omgee  beskerm jou hart teen die seerkry.



Maandag 02 November 2015

'n Gat in jou hart

Verlies laat jou verlore voel...

Niemand hou daarvan om iets of iemand te verloor nie. Enige iets wat jy verloor, hoe klein ookal, laat 'n leemte. Selfs 'n pen word gemis as dit nie meer daar is nie - gelukkig kan dit vervang word. Met mense en verhoudings raak dit egter meer kompleks.

Wanneer 'n huwelik of vriendskap tot niet gaan, het dit 'n rimpelende effek. Dit raak nie net die betrokke twee persone nie, maar dikwels ook 'n familie- en vriendekring.Met die dood van 'n geliefde is dit ook so: dit laat 'n leemte, 'n gat in die hart. Bande met ander persone en instansies sterf ook dikwels 'n stil dood omdat daardie persoon wat jul gebind het, nie meer daar is nie. Al hierdie verbreekte bande dra by tot 'n groter gevoel van verlies. Dis nie noodwendig as gevolg van versuurde verhoudings of slegte gevoelens wat bande verbreek word  nie; dit is 'n sameloop van omstandighede.

Verlies laat 'n wond wat genees moet word; hoe groot of klein ookal. Ouers wat kinders verloor het ervaar weer 'n mate van verlies wanneer die kind se maats gradueer, of trou, of ouers word.Gesinne wat 'n ouer verloor het, mis hulle by elke troue, doopplegtigheid, skoolkonsert. Om 'n broer of suster te verloor is nie minder seer nie. Dit laat 'n gat op elke familiefoto; 'n gemis by elke familiegeleentheid. Verlies is 'n pyn... 'n pyn in die hart.

Om die seer van verlies te onderdruk of te ontken, gaan dit nie beter maak nie. Elkeen verwerk sy/haar hartseer op 'n ander manier. As jy nie met mense daaroor kan praat nie,is die Vader steeds daar. Hy ken jou seer. Hy verstaan.

Psalm 34:19 lees: "Die Here is naby die gebrokenes, Hy help die moedeloses."

R.C Allen het gesê: "Deur moeilike tye groei ons, leer ons en oorwin ons." Uit ons eie krag kan ons nie, maar gelukkig is ons nie alleen nie.