Ek is iemand wat van my nuus hou. Alhoewel my tegnologiese kennis nou nie iets is om mee te spog nie, werk dit nogal vir my om koerante op die internet te lees. Hier in die Karoo is die koerante nou nie altyd op skedule nie. Daarom loer ek graag op die internet om te sien wat in die land en wêreld aangaan.
Ongelukkig bestaan 'n groot deel van die dag se nuus gewoonlik uit moord, ongelukke, dikwels ook selfdood. Dis gebeure (soos baie ander) wat families en vriende ruk. Onderaan die berigte plaas mense (?) dikwels kommentaar en dis wat my soms na my asem laat snak. Nie oor dit so mooi of bemoedigend is nie, maar oor dit so kwetsend en onnadenkend is. Dikwels wil dit vir my voorkom asof die lesers wedywer oor wie die skerpste tong kan hê; wie die seerste kan kwes. Aannames word gemaak en beskuldigings rond geslinger... so asof dit 'n speurverhaal is en daar 'n prys op die spel is.
Sulke kommentaar laat my dikwels dink dat 'n groot deel van die publiek ook "moordenaars" is; mense wat ander se siel / emosies dooddruk met hul woorde. Die Woord waarsku nie verniet teen die tong nie. Die einste tong het al menige persoon oor die afgrond gestoot.En tog leer ons nie...
Gelukkig is daar ook mense wat sagte woorde spreek; woorde wat jou binneste salf. Daar is net Een wat kan genees, maar elke woordjie van begrip en omgee beskerm jou hart teen die seerkry.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking