Ek het 'n vriendin verloor. Ons het mekaar nooit ontmoet nie. Ek het nooit die geleentheid gehad om in haar oë te kyk nie, maar ek kon 'n stukkie van haar hart sien.
Moord het ons saamgesnoer; haar dogter, my broer. Vir drie jaar was ons deel van mekaar se lewe.Ons albei het, soos baie ander, ervaar dat die lewe soms skewe spore in jou hart trap. Ek kon dikwels haar pyn aanvoel, al het sy dit nie verwoord nie.
Verlede jaar het ek die geleentheid gehad om die hofsaak ,oor die moord op by broer, by te woon. Haar onuitgesproke begeerte was om ook daardie kans te kry... dat die saak rondom die gruweldaad op haar dogter ook moet vorder. Die verdagte is/was aan haar familie bekend. As gevolg van omstandighede kon hy egter nog nie voor die regbank gebring word nie. Ek sou haar 'n hofsaak gun. Alhoewel dikwels pynlik en traumaties, is dit tog vir baie 'n tree op die pad na genesing.
Vroegoggend op 28 Januarie is sy weg. Haar laaste boodskap aan my was dat sy moeg is. Emosioneel of fisies? Sy het nie gesê nie. Sy is toe pas uit die hospitaal ontslaan. My (onwetende) groet was 'n images met die woorde:"Goeienag. Die son het verdwyn, maar God se liefde sal steeds oor jou skyn. Lekker slaap." Haar son op aarde het onder gegaan, maar in haar nuwe tuiste skyn 'n Lig van liefde en vrede. Mag daardie Lig ook haar hartsmense, wat agterbly, omvou.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking