Maandag 05 September 2016

Vier jaar

Dit is vandag vier jaar vandat my ouboet deur mense van ons weggeneem is. Vier jaar se gemis, maar ook vier jaar van genade. Tree-vir-tree word mens vasgehou. Hy laat jou nooit in die steek nie, al besef jy dit dikwels eers later.

Iets wat ek altyd geweet het, maar in die jaar baie ondervind het, is dat elke hart sy pyn het. Sommige hartswonde is dieper as ander en neem dalk langer om te genees, maar niemand is verhewe bo pyn nie.Ongelukkig is dit nog vir baie 'n tammeletjie om daaroor te praat. Om oop te maak. Om skoon te maak. 'n Wond wat toegehou word, sweer later. Genadiglik is ek 'n persoon wat maklik praat. Wanneer daar nie 'n gewillige oor naby is nie, is Hy nog altyd daar.

My ouboet se geboortedatum en sterfdatum is net meer as 'n maand uitmekaar. In die dae tussen-in is daar amper 'n "afwagting." Daarna is dit asof die gemoed weer meer rus kry.

Waarvan het ek in die vier jaar meer bewus geraak?
* dat 'n mens baie krag van Bo in hartseertye ontvang;
* dat elke persoon wat treur 'n doelbewuste besluit moet neem om aan te beweeg. Dit beteken NIE dat jy jou geliefde vergeet of verraai nie;
* dat  krag dikwels in herinneringe lê - veral kort na 'n geliefde se afsterwe;
* dat jy steeds voluit kan lewe na 'n geliefde se dood. Dit gaan dalk anders geskied as wat jy aanvanklik beplan het, maar die lewe kan steeds lekker wees;
* dat dit elke dag 'n voorreg is om 'n nuwe dag binne te gaan. Skielik kan ek  meer assosieer met die liedjie: "If tomorrow never comes";
* dat daar nog baie is om voor dankbaar te wees.

Ek sal my broer altyd mis. My elke- dag-se-onthou is vol gedagtes aan hom. Hy was net te groot deel van my lewe... Tog is ek 100% oortuig dat hy nie sou wou hê dat my lewe op hold geplaas moet word nie. Ek bly dankbaar vir die voorreg om hom my ouboet te kan noem.


Maandag 08 Augustus 2016

Sonder 'n groet

Dikwels dra jy kennis van ander se pyn, maar kan dit nie voel nie, want dit is nie jou pyn nie. Al stem omstandighede dikwels ooreen, bly elkeen se pyn sy eie en niemand kan dit vir ons dra nie. So het oom Dirk ook vir jare met sy pyn die lewenspad gestap...

Dirk en Ellie Human se eersgeborene het op 23 Januarie 1996 sy eie lewe geneem. Dit was slegs 'n paar maande nadat hul jongste seun in 'n ernstige motorongeluk betrokke was. Terwyl die tragedie afgespeel het, was hulle juis in Kaapstad om die jongste seun te ondersteun. Laasgenoemde moes na die ongeluk 'n operasie ondergaan.

"Een van my eerste gedagtes was dat die Here te ver gegaan het," vertel Dirk. "Ons het dan voor Japie se geboorte so gebid vir 'n welgeskape seun en nou is hy onder sulke omstandighede weggeneem. Ons was verslae, verbitterd en alleen."

"Die dag toe ons hom in die kerkhof gaan weglê het, wou ek en my vrou nie omdraai. Ons was stukkend. Ons wou Japie nie alleen laat nie," vertel hy. "Ek kan nie daardie gevoel beskryf nie: magteloos, eensaam, verlate? Dit het regtig gevoel of die Here 'n groot fout gemaak het." Dirk erken dat hy met die Here baklei het en dit met tye nog steeds doen. "Party dae voel dit steeds asof dit nie die werklikheid is nie," sê hy. Tog word ons telkens herinner dat die Here ons nie verlaat nie. Hy hou ons elke dag styf vas."

Japie sal altyd in hulle harte voortleef. Wanneer die Humans se voordeur oopgestoot word, begroet 'n laggende Japie jou. 'n Vergroting van sy foto  hang in die gang.

Dirk se trooskombers is egter sy daaglikse besoeke aan die kerkhof. As koster maak hy elke oggend om sesuur seker dat die kerkklok op die minuut slaan. Daarna besoek hy die kerkhof en Japie se graf. Wintertye ontmoedig selfs die donker en die ysige koue van die Karoo hom nie. "Hier gesels ek met my kind en ook met die Here," sê hy. "Een oggend was dit sof my Verlosser langs my gestaan het. Dit was asof hy vir my wou sê dat wat Hy doen ek dalk nie nou verstaan nie, maar wel eendag sal begryp."

Dirk is ook self verantwoordelik vir die netheid rondom die graf. Hy verkies dit so. Dit is die laaste wat hy vir sy kind kan doen.

NASKRIF: Die kerkklok waarop oom Dirk so gesteld was, het nou ook 'n laaste keer vir hom gelui. Enkele weke na ons gesprek is oom Dirk op 9 Februarie 2016 oorlede. Vir ewig is hy nou met Japie verenig.
Ek glo tannie Ellie en sy ander twee kinders gun hom dit...tot hul almal eendag weer ontmoet.


Saterdag 30 Julie 2016

Onkundig of ongevoelig

Ek is lief vir mense...tog staan ek dikwels verstom oor hoe mense redeneer en optree. Soms verras hulle jou; ander kere verbaas hulle jou en dikwels laat hul jou sonder woorde.

My skoonma is op 15 Julie 2016 oorlede. Die begrafnis vind in die Noorde plaas: 1200 kilometer vanaf die karoodorpie waar ons woon. Inderhaas word reëlings getref/ As gastehuiseienaars is daar so bietjie ekstra waaraan gedink moet word. Gaste wat aandete bespreek het vir die aand waarop ons sal terugkeer, word in kennis gestel. Die kanse is goed dat hulle voor ons sal arriveer. Die omstandighede word verduidelik en hulle word versoek om by die restaurant in die dorp aandete te gaan nuttig. Hulle verkies egter om te braai. Alhoewel ons nie 'n selfsorgbesigheid is nie, kom ons hulle tegemoet en word gereël dat die braaier en eetgerei aan hulle voorsien sal word in ons afwesigheid.
 
Met ons aankoms tuis is genoemde gaste reeds daar en die vlamme dans reeds rond. Hulle word gegroet en in die sterk skemer word ons bagasie afgelaai. Soos 'n frats wind word ek uit die bloute , deur een van die gaste, aangeval omdat ek haar nie sou gegroet het nie. My verbaasde antwoord dat ek hulle met ons aankoms by die vuur gegroet het, maak geen indruk nie. Sy beweer dat sy nie op daardie stadium by die vuur was nie. Na dertien ure op die pad het 'n mens nie lus, of krag, om daaroor te argumenteer nie.
 
Daar is vir vyf persone bespreek .Net vier het opgedaag. Alhoewel ek geensins nodig gehad het nie, gee ek hulle die enkelpersoon se bedrag af op hulle ontbyt die volgende oggend. Volgens die gastehuisreëls moes hulle die bedrag verbeur. Aangesien die uitstaande bedrag wat hul moes inbetaal so gering is, gee ek die ook af. Hulle eet dus gratis ontbyt. Ekself verloor finansieël, aangesien die webtuiste ook kommissie op die bedrag geneem het.
 
'n Paar dae later ontvang ek kommentaar vanaf die webtuiste dat ek onvriendelik was. Moeg dalk, ja. Onvriendelik, nee. Eers was ek sonder woorde. Toe teleurgesteld.Ek kon nie help om te wonder of sulke mense se selfgesentreedheid so sterk is dat daar nie vir 'n oomblik gedink is dat ons dalk moeg, of selfs hartseer, kon wees nie.Gastehuiseienaars bly steeds mense met gevoelens. Ten spyte daarvan dat hul die omstandighede geken het, is nooit 'n woordjie van simpatie geuiter nie. Ten spyte van ons tegemoetkoming met die braai en die gratis ontbyte, is daar volgens hulle genoeg rede om negatiewe kommentaar te lewer.
 
Is hulle "onkundig" oor wat die verlies van 'n geliefde beteken of bloot ongevoelig? Ek weet nie. Ek weet net dat ek hulle eindlik jammer kry. Negatiwiteit kan mens opvreet.
 
                     "Deur moeilike tye groei ons, leer ons en oorwin ons." - R.C. Allen
 
 
 
   
 
 

Woensdag 22 Junie 2016

'n Dubbelle seer

Om n geliefde op 'n onnatuurlike wyse te verloor, bring baie trauma saam met die hartseer.

Die Griekse word vir trauma beteken wond. Dit is beskrywend vir die pyn waardeur diegene wat agterbly, moet stap. Met tye is dit 'n stryd vir net oorlewing. Tog vind hulle maniere om weer op te staan; om die seer vir hulself sagter te maak. met hartseer weef hul vir hulle 'n trooskombers.

Maggie Hugo het haar middelkind en eggenoot op 'n onnatuurlike wyse verloor.

Vroegoggend op 13 November 2005 is 'n oproep van haar oudste suster ontvang. Maggie is meegedeel dat haar susterskind in 'n motorongeluk oorlede is. "Nooit het ek daardie oggend gedink dat ek sewe maande en elf dae later dieselfde boodskap sou ontvang nie," sê sy. Op 24 Junie 2006 het dieselfde hartseer in haar hart kom nesmaak. Louis, haar en haar man, Koos, se middelkind, is in 'n motorongeluk oorlede. Die ongeluk het by Louis se Alma Mater, Grootfontein Landboukollege, gebeur."Ek het dadelik my jongste seun geskakel. Hy het op die ongeluk afgekom. Sy eerste woorde aan my was dat Louis dood is. Hy het ook genome dat Louis potblou in sy gesig is," vertel Maggie. "Daardie prentjie het in my kop afgespeel."
 
"Ek het die Here gevra om my deur die tyd te dra," onthou sy. "Vir lank kon ek nie kerk toe gaan nie. Ek kon nie na foto's van Louis kyk nie. Met die aanhoor van sy naam het ek soms kriewelrig geraak," sê sy. "Ek het egter nie die Here wat Louis geneem het, saam et hom begrawe nie."
 
Maggie en Koos het besluit om 'n wisseltrofee, ter nagedagtenis aan Louis, aan Grootfonteinkollege te skenk. Louis was 'n presteerder tydens sy studiejare. Albei hul ander twee seuns het ook hul studies aan Grootfontein voltooi en die Hugo's het dus 'n noue band met die kollege gehad. "Grootfontein was Louis se geliefkoosde plek," vertel sy.
 
Dit was egter nog nie die einde van haar hartseer nie. Op 15 April 2008 het haar man sy eie lewe geneem."Ek het vir almal gesê dat ek Koos se dood beter kon hanteer. hy wou nie meer lewe nie. My seun se dood was vir my baie erg."
 
Op soek na berusting, het sy na koos se afsterwe 'n hangertjie van sy trouring laat maak. 'n Kruisie wat sy na haar seun se dood gekoop het, is in die ring gemonteer. Sy het ook intussen hul name op haar lyf laar tatoeër. "So het ek hulle heeldag by my," sê sy.
 
Maggie  hou 'n foto van haar seun, Louis, vas. Sy naam is op haar pols aangebring.
 

Woensdag 08 Junie 2016

Meer as statistiek

Niemand van ons wil hê dat ons afgestorwe geliefdes slegs as 'n statistiek onthou word nie. Ons weet wat hulle vir ons, en dikwels ook vir ander, beteken het. Daarom gebeur dit dikwels dat die treurendes iets doen of oprig, ter herinnering aan die afgestorwene se lewe. Dit is normaal.

Baie put krag uit hierdie daad van herinnering; wat natuurlik uit liefde spruit. Tog is daar dikwels waarskuwings dat diegene wat agter gelaat is nie in die verlede water moet trap nie; dus nie in die verlede moet vassteek nie. 'n Berader  is hieroor genader.

Dr. Yvonne Retief is 'n gerespekteerde berader op nasionale en internasionale gebied. Sy wys daarop dat sekere gedrag vir 'n sekere tydprek normaal en aanvaarbaar is, bv die dra van swart klere en 'n rouband in die verlede. "Enige ritueel wat dit vir 'n mens, as individu, makliker maak, is goed," sê sy. Tog wys sy daarop dat dit ongesond kan wees om bv elke week blomme in 'n persoon se kamer te sit terwyl die kamer onveranderd bly. "Om iets soos 'n beurs of skild ter nagedagtenis van iemand te skenk, hou die nagedagtenis in ere sonder dat die persoon wat rou oor 'n lang tydperk steeds 'n klomp energie in die  instandhouding van die nagedagtenis belê," meen sy. Syself hou van die idee om 'n boom te plant ter nagedagtenis van 'n oorledene. Sy stel dit duidelik dat mense verskillend rou en dat rituele van onskatbare waarde kan wees, maar dat 'n mens versigtig moet wees om nie daar vas te hak nie."



Saterdag 07 Mei 2016

'n Ma leef liefde...

More is Moedersdag.

My ma is reeds 29 jaar nie meer deel van ons aardse lewe nie, maar in my hart en gedagtes leef sy voort. Daar gaan nie 'n dag verby sonder dat ek op een-of-ander manier aan my ma herinner word nie. Dalk 'n sê-ding; dalk ietsie wat my oog vang; dalk 'n gereg wat ek maak...

Op skool wou baie van my maats  met my broodjies ruil .'n Tuisgemaakte vetkoek of jafel is baie smaakliker as snoepie lekkernye. My ma s'n was ekstra lekker, want dit is met liefde gemaak. Al was daar die dag net 'n appelkooskonfytbroodjie in my blik, kon ek steeds die liefde proe.

Alhoewel my ma baie gesondheidsprobleme gehad het, was sy nooit te siek om haarself vir haar kinders te gee nie.Ons kleinhoewe was vakansietye en naweke die niggies en nefies se kuierplek. My ma se hart was groot. Sy was lief vir  mense.
 
My ouers se gebede het ons gedra. As hulle nie self op 'n plek kon wees nie, was hulle  gebede altyd vooruit. Daar is niks so opreg soos 'n ouer se gebed nie- die liewe Heer weet dit kom diep uit die hart. 
 
Iets wat ek baie van my (oorlede) ouers waardeer is dat hulle ons toegelaat het om ons eie mens te wees: ons eie drome te droom, eie lewe te lei en eie foute te maak. Hul was altyd daar vir raad en leiding, maar sou ons nooit in 'n rigting prober druk nie. Natuurlik was hul ook vreeslik trots op ons - nie een van ons kinders het in 'n ander se skadu geleef nie. Ons is as unieke wesens groot gemaak.
 
Partydae wens ek steeds ek kon my ma bietjie bederf. Sy het so baie vir ons kinders opgeoffer. Ek het haar nooit hoor kla nie. Vandag besef ek hoe moeilik dit dikwels vir haar moes wees. Ek het skaars begin om my eie geld te verdien toe sy oorlede is. Ek is dus nie die kans gegun om haar met materiële dingetjies te bederf nie,maar sy het geweet hoe ek haar as ouer waardeer het. Dit het ek altyd vir haar prober wys. Met my twintigste verjaarsdag het ek aan my ouers 'n dankie-kaartjie gestuur. "Dankie vir twintig jaar se liefde en sorg," het ek binne-in geskryf. Met my pa se afsterwe, jare na die van my ma, is die kaartjie in sy een laai gekry.
 
Ek besef net elke dag hoe bevoorreg ek was om in 'n stabiele, liefdevolle huis groot te word. As ek deur die koerante blaai en al die liefdeloosheid, en selfs wreedheid ,sien wat in huishoudings plaasvind, laat dit my hart inkrimp. Dan sê ek weer duisend keer dankie vir die ouers wat die Liewe Vader aan my gegee het.
 
 
            "n Ma hou haar kind se hand vir 'n kort rukkie vas, maar sy hart vir altyd."
                                                                          Anoniem
 

Maandag 11 April 2016

n Gemis

Ons staffie van dertien jaar moes verlede week uitgesit word. Enige troeteldierliefhebber sal weet dat dit nooit 'n maklike besluit is nie. Vir weke is met die idee gestoei, maar later was dit onafwendbaar. Sy het 'n beroerte gehad en was onder andere blind.

Ruby was n besonderse hond. Skaars agt weke oud, het sy die soldertrap bestyg as sy ons stemme hoor. Dan kon sy by die venster inkyk waar ons met 'n telefoonoproep besig was. Slange, skerpioene en muishonde het geen vrees by haar ingeboesem nie en sy het gesorg dat die erf skoon bly van enige ongediertes. Sy kon sag beweeg. Een aand het sy by die hek uitgesluip toe my man dit vir 'n gas oopmaak. Dit was donker en ons het dit nie agter gekom nie. Drie uur die volgende oggend het sy aan die voordeur kom krap om ingelaat te word - moeg gekuier in die buurt.

Behalwe dat ons hartseer was om haar te verloor, het ek ook onthou hoe ek my bekommernis aan my broer oorgedra het rondom haar siekte vier jaar gelede. Die Karoo het daardie tyd wit van die sneeu gelê. Paaie was vir twee daer gesluit. In die tyd het Ruby bosluiskoors en longontsteking opgedoen. Toe ek die dinge vir my broer vertel het, sou ek nie kon dink dat laasgenoemde van ons weggeruk sou word nie. Minder as twee maande later is my ouboet vermoor. Ruby het herstel.

Wanneer 'n mens iets of iemand verloor, is die gemis daar. In sommige gevalle meer kortstondig; in ander gevalle 'n leeftyd lank.




Woensdag 17 Februarie 2016

Wat maak ons met die stukke?

Hier is soveel seer in ons land. Dit besef ek telkens wanneer ons die trauma ondersteuningskamp reël. Behalwe vir moord, selfdood, ongelukke is daar ook die seer van verkragting, egskeiding, huishoudelike geweld en verhoudings wat verbrokkel. Laasgenoemde is nie net tussen geliefdes nie, maar ook tussen vriende en familielede. Oproepe vertel die verhaal. Mense smag na hulp...totdat hulp 'n beskikbaar is. Dan neem vrees weer van hul besit.

Die hartseer is dat persone , wat erken dat hulle hulp nodig het, dikwels wegdraai van 'n helpende hand. Hulle probeer die seer toeplak. Volstruistegniek lyk dikwels na 'n oplossing. Vir 'n rukkie kan dit dalk, maar iewers tref die werklikheid 'n mens weer.

Wanneer 'n bottel breek, tel ons die stukke op. Wanneer ons hart "breek", wil ons oor die stukke klim. Dikwels dink ons die seer sal verdwyn as ons die "stukke" ignoreer, of ons dink ons kan daaroor spring. Ongelukkig is nie een van die metodes doeltreffend nie. Die enigste oplossing is om dit op te tel; om dit te hanteer. Ons moet eers deur ons pyn stap om by genesing uit te kom. Natuurlik is dit nie 'n maklike of aangename proses nie. Dit neem 'n dapper persoon om die weg te volg. Niemand sal dit vir die pret(?) doen nie. Tog is dit 'n proses wat noodsaaklik is, wat  jou lewensfiks hou. Dit help jou om weer die lewe voluit aan te durf.

Wat maak 'n mens dan met die stukke? Bou 'n mosaiek! Sit die stukke bymekaar! Daar gaan krakies wees, ja. Van die stukke het skerp punte; dis ook waar. Maar saam kan dit 'n lieflike beeld/patroon vorm. Waardeer dan jou mosaiek : sien die geheel , nie die stukke. Dit is soos God ons sien.


Vrydag 29 Januarie 2016

Ek het 'n vriendin verloor...

Ek het 'n vriendin verloor. Ons het mekaar nooit ontmoet nie. Ek het nooit die geleentheid gehad om in haar oë te kyk nie, maar ek kon 'n stukkie van haar hart sien.

Moord het ons saamgesnoer; haar dogter, my broer. Vir drie jaar was ons deel van mekaar se lewe.Ons albei het, soos baie ander, ervaar dat die lewe soms skewe spore in jou hart trap. Ek kon dikwels haar pyn aanvoel, al het sy dit nie  verwoord nie.

Verlede jaar het ek die geleentheid gehad om die hofsaak ,oor die moord op by broer, by te woon. Haar onuitgesproke begeerte was om ook daardie kans te kry... dat die saak rondom die gruweldaad op haar dogter ook moet vorder. Die verdagte is/was aan haar familie bekend. As gevolg van omstandighede kon hy egter nog nie voor die regbank gebring word nie. Ek sou haar 'n hofsaak gun. Alhoewel dikwels pynlik en traumaties, is dit tog vir baie 'n tree op die pad na genesing.

Vroegoggend op 28 Januarie is sy weg. Haar laaste boodskap aan my was dat sy moeg is. Emosioneel of fisies? Sy het  nie gesê nie. Sy is toe pas uit die hospitaal ontslaan. My (onwetende) groet was 'n images met die woorde:"Goeienag. Die son het verdwyn, maar God se liefde sal steeds oor jou skyn. Lekker slaap." Haar son op aarde het onder gegaan, maar in haar nuwe tuiste skyn 'n Lig van liefde en vrede. Mag daardie Lig ook haar hartsmense, wat agterbly, omvou.  


Saterdag 23 Januarie 2016

Letters op papier

'n Week-of-wat gelede doen 'n streeksradiostasie met my 'n onderhoud oor die Trauma ondersteuningskampe wat ek reël. Een van die vra wat die omroeper my vra, is wat my gehelp het na die moord op my broer. Sonder om te dink kon ek "skryf" antwoord.

Toe die seer in my binneste my keel wou toedruk, het ek begin om briewe aan my broer te skryf. Vir sommige mag dit dalk snaaks klink. Vir my het dit wondere verrig. Die letters op papier word jou seer op papier. Die swaar gevoel word tog ligter. Jy begin makliker asemhaal. Jy irriteer nie ander met jou verlange nie. Papier is geduldig. Jy hoef nie 'n skrywer te wees nie...Jy hoef nie mooi woorde te gebruik of ander te probeer beindruk nie. Dis privaat.

Dit was verrassend oor hoe die woorde uitgeborrel het. As jy dit later weer lees, kry jy ook meer persepektief oor jou situasie.Soms huil jy. Dis ook goed. Trane is die reën van die siel. Skryf kan 'n wonderlike deel van die genesingsproses uitmaak. Baie persone het nie altyd dadelik toegang tot professionele hulp nie. Ondersteuningsstelsels ontbreek ook dikwels. Dan kan skryf 'n reddingstou word totdat hulp (bv. berading) "opdaag."

Dit onderstreep net wat ek 'n vorige keer ook genoem het: moenie opkrop nie; moenie gevoelens onderdruk nie. Maak die "wond" oop; laat die seer uitkom.


Saterdag 02 Januarie 2016

Verrassingsmandjie 2016

'n Nuwe jaar; nuwe geleenthede. 'n Hele jaar word ons aangebied  om daarmee te maak wat ons wil. Ons kan dit leef... of terugverlang na die verlede. Dalk vooruit wens vir die toekoms en vergeet om die oomblik te benut? 

Om 'n nuwe jaar in te gaan beteken nie ons moet gister vergeet nie; dit is deel van ons. Natuurlik mag ons uitsien na die toekoms. Ons mag net nie vergeet om vandag te lewe nie.

Soms voel persone wat 'n geliefde op onnatuurlike wyse verloor het "skuldig" om aan te gaan met die lewe. Dit voel dalk of die geliefde in die steek gelaat word, want hy/sy het nie meer die voorreg nie. Juis daarom moet ons voluit lewe. Lewe is 'n voorreg. Natuurlik verander baie dinge in 'n mens se lewe na so traumatiese gebeurtenis. Jy voel dalk stukkend; verhoudinge is verbreek; jou drome lê aan skerwe... Tel dit op. 'n Mosaïeklewe kan ook mooi wees.

Om weer voluit te kan lewe moet die seer eers behandel word. Genesing moet plaasvind. Alhoewel baie mense voel hulle kan dit hanteer, raak die las op 'n dag net te swaar. Praat oor so groot seer is nie maklik nie, maar wel noodsaaklik.

Op die Trauma ondersteuningskampe wat ons jaarliks aanbied, is dit wonderlik om te sien hoe mense mekaar se seer verstaan; hoe hulle hulself beter begin verstaan.Maar dit is ook in 'n mate hartseer om te sien hoeveel mense nog wegskram van die pad na genesing.

Die volgende kamp is (DV) 19-21 Maart 2016 in Pretoria omgewing.
Die program word onder leiding van opgeleide beraders aangebied.
Kontak my gerus by 0726005809 vir meer besonderhede.

Voorspoed vir die jaar: dis 'n verrassingsmandjie wat voor ons staan. Maak oop; geniet dit...daar is selfs 'n ekstra dag om te benut, want dis skrikkeljaar! Maak die beste van elke dag.