Dinsdag 15 Desember 2015

Kom ons vier...

Kersfees, vir Christene 'n vreugdevolle gebeurtenis. Vir die meeste mense is dit 'n spesiale tyd. 'n Tyd van vakansie en familiekuiers. 'n Tyd om fees te vier. 

Tog is Kersfees vir ander 'n eensame, hartseer tyd. Baie mense is oor die Kerstyd alleen. Ander verlang na geliefdes wat nie meer daar is nie. Vir hierdie mense voel dit dikwels asof hulle die Feestyd eerder sou wou "skip."

Kersfees behoort ons almal egter met vreugde te vul, ongeag ons omstandighede. Dit is die tyd van die jaar waarin God se liefde duidelik sigbaar is. Hy het Sy Seun vir ons na die wêreld gestuur; ongeag wie of wat ons is. Daarom behoort almal van ons uit dankbaarheid Kersfees te vier. Ons het veel meer om voor dankbaar te wees as wat ons dink: ons is/was deel van 'n gesin. Al is jy dalk nou ver van jou familie, was daar tog tye van saamkuier wat jy kan koester. Indien jou hart pyn van verlange na 'n geliefde wat weg is, kan jy jou steeds met dankbaarheid toevou oor die tye wat jul saam gehad het.

Niemand van ons se lewe is tog net sleg nie?!  Iewers is/was daar tog goeie tye. Goeie tye se onthou word die liggie wat die donker om ons verdryf. Uit elke situasie leer ons iets... dit laat ons groei.

Kersfees behoort op gepaste wyse gevier te word. Die feit dat jy hier lees, beteken jy lewe en dit is 'n voorreg. Vier dit; geniet dit.

My Kersboodskap vir jou:

Doer in die veld, daardie nag
was herders by hul se skape op wag.
In die veld was dit stil-
toe gee een 'n harde gil:
'n Skerp, blink lig
skyn in hulle se gesig!
Vrede, vrede
sing die Engelekoor-
almal kon dit met hul se eie ore hoor. 
Hul gryp toe hul se blêr-goed
en vat die pad te voet...
Daar in die stal het hul Hom gekry;
Hul se harte was so bly!
Josef en Maria was so trots,
hul kleine Kindjie is die wêreld se Rots.
In die stal was geen special kos gewees, 
maar in die hemel was 'n groot fees.
Van ver het mense gekom
om persente te bring vir Hom.
Net koning Herodes was nie bly;
hy wou die Kindjie uit die pad uit kry-
maar God het klaar plan gemaak
en die slegte koning se mense was te laat.

Oor die Kindjie is ons vandag nog bly, 
want wie anders sou die wêreld van sonde bevry?
                                                                          EP

Seënwense vir Kersfees en die nuwe jaar!
                                                                          

Maandag 30 November 2015

Ai, daardie tong...

Ek is iemand wat van my nuus hou. Alhoewel my tegnologiese kennis nou nie iets is om mee te spog nie, werk dit nogal vir my om koerante op die internet te lees. Hier in die Karoo is die koerante nou nie altyd op skedule nie. Daarom loer ek graag op die internet om te sien wat in die land en wêreld aangaan.

Ongelukkig bestaan 'n groot deel van die dag se nuus gewoonlik uit moord, ongelukke, dikwels ook selfdood. Dis gebeure (soos baie ander) wat families en vriende ruk. Onderaan die berigte plaas mense (?) dikwels kommentaar en dis wat my soms na my asem laat snak. Nie oor dit so mooi of bemoedigend is nie, maar oor dit so kwetsend en onnadenkend is. Dikwels wil dit vir my voorkom asof die lesers wedywer oor wie die skerpste tong kan hê; wie die seerste kan kwes. Aannames word gemaak en beskuldigings rond geslinger... so asof dit 'n speurverhaal is en daar 'n prys op die spel is.

Sulke kommentaar laat my dikwels dink dat 'n groot deel van die publiek ook "moordenaars" is; mense wat ander se siel / emosies dooddruk met hul woorde. Die Woord waarsku nie verniet teen die tong nie. Die einste tong het al menige persoon oor die afgrond gestoot.En tog leer ons nie...

Gelukkig is daar ook mense wat sagte woorde spreek; woorde wat jou binneste salf. Daar is net Een wat kan genees, maar elke woordjie van begrip en omgee  beskerm jou hart teen die seerkry.



Maandag 02 November 2015

'n Gat in jou hart

Verlies laat jou verlore voel...

Niemand hou daarvan om iets of iemand te verloor nie. Enige iets wat jy verloor, hoe klein ookal, laat 'n leemte. Selfs 'n pen word gemis as dit nie meer daar is nie - gelukkig kan dit vervang word. Met mense en verhoudings raak dit egter meer kompleks.

Wanneer 'n huwelik of vriendskap tot niet gaan, het dit 'n rimpelende effek. Dit raak nie net die betrokke twee persone nie, maar dikwels ook 'n familie- en vriendekring.Met die dood van 'n geliefde is dit ook so: dit laat 'n leemte, 'n gat in die hart. Bande met ander persone en instansies sterf ook dikwels 'n stil dood omdat daardie persoon wat jul gebind het, nie meer daar is nie. Al hierdie verbreekte bande dra by tot 'n groter gevoel van verlies. Dis nie noodwendig as gevolg van versuurde verhoudings of slegte gevoelens wat bande verbreek word  nie; dit is 'n sameloop van omstandighede.

Verlies laat 'n wond wat genees moet word; hoe groot of klein ookal. Ouers wat kinders verloor het ervaar weer 'n mate van verlies wanneer die kind se maats gradueer, of trou, of ouers word.Gesinne wat 'n ouer verloor het, mis hulle by elke troue, doopplegtigheid, skoolkonsert. Om 'n broer of suster te verloor is nie minder seer nie. Dit laat 'n gat op elke familiefoto; 'n gemis by elke familiegeleentheid. Verlies is 'n pyn... 'n pyn in die hart.

Om die seer van verlies te onderdruk of te ontken, gaan dit nie beter maak nie. Elkeen verwerk sy/haar hartseer op 'n ander manier. As jy nie met mense daaroor kan praat nie,is die Vader steeds daar. Hy ken jou seer. Hy verstaan.

Psalm 34:19 lees: "Die Here is naby die gebrokenes, Hy help die moedeloses."

R.C Allen het gesê: "Deur moeilike tye groei ons, leer ons en oorwin ons." Uit ons eie krag kan ons nie, maar gelukkig is ons nie alleen nie.








Donderdag 22 Oktober 2015

Salf vir die siel

Huil is salf vir die siel. Dit maak skoon en laat jou "ligter" voel. Ongelukkig is daar nog mense wat huil as 'n skande of swakheid beskou. Dis so jammer, want trane is deel van die skoonmaak proses. Dit bring die "vuilheid" uit en help met genesing. Jesus het self by Lasarus se graf geween.

Om die seer te onderdruk, is nie 'n wyse keuse nie. Dit mag dalk die indruk skep dat jy sterk is, maar onderliggend vorm 'n "sweer." Wanneer daardie sweer oopbars, is die seerkry ( in die ergste graad) steeds daar. Die pad na genesing raak net al hoe moeiliker. Emosioneel word jy getap.

Trauma en hartseer moet verwerk word. Min mense, indien enige, kan dit op hul eie verwerk. Dikwels hoor 'n mens dat tyd genesing bring. Is dit werklik so? Demp tyd nie net die seer nie? Of raak 'n mens oor die jare maar net gewoond aan die pyn?

Niemand kan gedwing word om te praat en/of vir berading te gaan nie. Persone kan wel aangemoedig word. Praat is nie maklik nie, maar noodsaaklik. Dit is net so noodsaaklik soos om 'n wond skoon te maak. Om 'n geliefde aan die dood af te staan, veroorsaak 'n  hart-wond; dit kan net nie met die blote oog gesien word nie.

Moenie jou wond troetel nie. Kry liewer hulp om dit te genees.


Donderdag 08 Oktober 2015

Die waarde van 'n pampoen

Die dood van 'n geliefde is nie iets waarna enige iemand "uitsien" nie. Tog is dit 'n realiteit; iets wat niemand kan ontglip nie. Wanneer 'n geliefde op 'n onnatuurlike wyse sterf (moord, selfdood, ongeluk), is die skok en trauma soos 'n hou in die maag. Jy is wind-uit. Jy snak na asem.

Iets waarmee baie persone wat dit ervaar het, sal saamstem, is dat almal verskillend treur. Daar kan nie 'n manier of tydperk aan gekoppel word nie. In die rouproses moet 'n mens dit ook altyd probeer onthou. Eie smart maak dikwels dat daar nie ruimte gelaat word vir 'n ander se manier om deur die proses te werk nie. Dit kan dikwels lei tot misverstande en onnodige ongelukkigheid.

Woorde ontbreek ook dikwels by kennise, vriende en selfs familie wanneer hulle wil simpatiseer. Wat goed bedoel is, kom soms krom-en-skeef uit en die treurende kan dit maklik misverstaan.So ontstaan daar onnodige ongelukkigheid. Sommige persone bly weer heeltemal weg, omdat hulle nie weet hoe om die situasie te hanteer nie.

Ek het iewers die storie gehoor van 'n professor wat 'n geliefde verloor het. Deur die loop van die dag het 'n kollega hom besoek. Met die oopmaak van die deur staan die kollega toe daar met 'n pampoen in die hand. Voor die professor iets kon uitkry, is die pampoen in sy hand gedruk met die woorde: "Hier is vir jou 'n pampoen." Die kollega het dadelik weer gegroet en vertrek. Die professor het later getuig dat hy baie van die besoekers se trooswoorde nie kon onthou nie, maar die opregtheid waarmee die pampoen gebring is, sal hy nooit vergeet nie.

                       Baie keer lê die waarde van omgee nie in woorde nie, maar in dade.

Saterdag 26 September 2015

Rugby

En hier is die Rugby Wêreldbekerkampioenskap weer aan die gang!

Ek kan nie help om te onthou dat my broer met die vorige kampioenskap nog saam met ons was nie. 'n Mens se onthou loop  mos sy eie pad...

Die meerderheid van ons gesin is groot sportentoesiaste, veral rugby. My pa kon so graag sê, wanneer dinge op die veld nie na wense verloop het nie,"Kan jy dit glo?". Dan sou my ma antwoord: "Maar jy sien dit dan." Vandag nog dink ek met genot terug hieraan.

Een van die dinge wat ek wel na elke wedstryd mis, is ek en my ouboet se gesels na 'n wedstryd. Ongeag watse wedstryd dit was; na elkeen het ons mekaar gebel en dan was dit tyd vir grooot gesels. Aanvanklik het die gesprek met rugby begin, maar later is sommer alle nuus gedeel. Na ons ouers se afsterwe was hy die anker in die familie. Hy was die skakel met die uitgebreide familie en so het almal op hoogte gebly oor familiesake.

Skooltyd het ons gereeld gaan rugby kyk op Loftus. Ja, natuurlik is ons gesin Blou Bulle! Van die lekkerste onthou is die rugby uitstappies. Al sit ek duisend kilomer weg, is daar nog steeds iets in die lug op 'n Saterdagmiddag (in rugbytyd) wat my na Loftus laat verlang. Dis so terloops waar ek geleer het om so vinnig te stap. Ek moes hard stap om by die manne te bly. Op universiteit het my vriendinne altyd gekla ek loop te vinnig!!

Wanneer iemand nie meer daar is nie, raak al sulke stukkies herinnering kosbaar. Jy bêre alles in die onthou-boksie om uit te haal wanneer die gemis kop uitsteek. En dit troos tog so bietjie...


"Enjoy the little things in life,
because one day you will look back
and realise they were the big things." 

Vrydag 18 September 2015

Die mooiste, mooiste maand

Die ouer mense het altyd gesê dat mens nie oor mooi en lekker kan stry nie. Dis waar. So verskil ek met die digter oor die "mooiste, mooiste maand." September was/ is nog altyd vir my 'n spesiale maand; iets soos vitamiene vir die siel. Ek was nog nooit 'n wintermens nie. Dit voel dus vir my of ek in September so saam met die natuur ontwaak en nuwe lewe kry.

Ironies genoeg is dit die maand waarin my ma begrawe is (1 Sept 1987) en ook die maand waarin my broer vermoor is (5 Sept 2012). Tog bekoor die maand my steeds. Ek waardeer die prag van die natuur nog meer, want wie van ons weet wanneer dit ons laaste lente is? Dit is daarom wat ek poog om elke dag voluit te leef; ook vir hulle wat nie meer kan nie. Natuurlik is dit nie altyd maklik nie; natuurlik is die verlangdae nog daar.

In die drie jaar na my broer se dood het die gevoel van magteloosheid plek gemaak vir 'n oneindige gevoel van dankbaarheid: dankbaarheid dat hy my ouboet was, dankbaarheid dat hy 65 jaar vir ons familie gespaar is; dankbaarheid vir die mooi lewe wat hy gehad het; dankbaarheid vir die voorbeeld wat hy aan ons ander gestel het...

Hiermee saam ook  dankbaarheid vir die ouers wat ons gehad het; hulle wat gehelp vorm het aan die wonderlike ouboet wat ons gehad het. Dan besef ek weer daar is soveel meer in die lewe as wat geld kan koop.

Dit is hierdie mooi herinneringe wat my (en ek glo baie ander wat geliefdes verloor het) troos tydens die verlangdae. En dan stuur ek weer 'n dankgebed na Bo...




Donderdag 10 September 2015

Terug op die lug!

Na baie tegnologiese pyne met die laptop en ander bedrywighede, is ek weer terug om te gesels.

Alhoewel daar heelwat tyd afgetik het na die moord op my broer, is daar elke dag "nuwe" gevalle wat mense se lewens deurmekaar krap; om dit sagkens te stel. Daar is so baie seer in ons land: moord, selfdood, ongelukke, verkragtings, egskeidings... Die seer word telkens duidelik wanneer ek die jaarlikse Trauma Ondersteuningskampe reël. Noodkrete vir hulp klink van orals op. Ongelukkig is nog baie mense huiwerig om daaroor te praat. Praat is nie maklik nie, maar noodsaaklik!!

Daar is so baie maniere waarop mense gehelp kan word: gebruik dit. Om met die seer rond te loop beïnvloed jou hele menswees; ook verhoudinge met ander gesins-en familielede, want nie almal treur op dieselfde manier nie. Eers wanneer jou eie seer gesond is, het jy krag en die wil om ander by te staan. 

Ek wil jou uitnooi om saam te gesels. Kom ons bemoedig en ondersteun mekaar... daar breek dalk net 'n sonstraal deur.

(Indien jy wil saam gesels/ kommentaar lewer, klik op geen kommentaar onderaan die blog en dan sal dit vir jou die opsie gee om saam te kuier.)